DIe DONKER TORING

Songs en lirieke deur Danie du Toit

Musiek deur Spoegwolf

Kletsrym deur Albert van der Merwe

SKADUWEE

Jy was ligter as my skaduwee         

jy was naby

jy was jonk

net jou oë kon jou weggee

 

jy’t my van jou droom vertel

ek het daai huis vir jou gaan bou

as jy kon sien

sou jy als onthou

 

Die lig op jou hare
is al wat waar is
was dit soet?
Jou bloed, toe God jou soen


jy lê oor my lewe
en alles wat waar is
was dit soet?
jou bloed toe God jou soen


Jy lê oor my lewe
na daai vreeslike ding

GEEL

Ek het jou ontmoet

in al daai geel

jy’t daai doos by jou gehad

ja, die een wat my nagemaak het

en ek moes speel

oor al my swart

die slaaploopdroom wat my rug ophou

die ding wat my my lewe lank dophou

en nou vir jou

bou jou lewe bo my

hoog genoeg dat die donker jou nie kry nie

Julie

kan ek weer begin voor al daai geel?

jy't dit als op jou gesit

gesê dat ons net uitgedink is

en volg jy in al my swart

op die wolktrappad wat my wakker hou

die ding wat ek my lewe lank dophou

maar nou vir jou

bou jou lewe bo my

hoog genoeg dat die donker jou nie kry nie

 

 

WINTER

met jou oë soos winter

die bries kom van diep uit die see        

het ek jou in die dood al ontmoet?

 

sit my in jou bloes

as dit raas in die dorp

ek het jou in my bloed hoor klop

 

die nag is gesplinter

met silwer van diep uit see

ek het jou op my laaste ontmoet        

sit my in jou bors

as dit raas in jou mond

ek het jou in my bloed hoor klop

 

ek het weer verdwaal in die veld

jy’t die sterre oor my uitgegiet

 

as jy daai lot kan vergewe,

kan ek nog buite jou klere gaan hang 

en die wind op ons roep

die bome, die koor

ek weet jy wou dit hoor

 

jy’t my gevra

ek het al hierdie goed

van die jeug en die bloed

tussen mense vergeet

sit my in jou plan

as dit raas in jou kop

ek kan jou in my toekoms voel

HARTAANVAL

Hartaanval

hoor my val

volg my hier

op die see se wal

vat weer aan my arm

maak dit hier

is dit tydelik?

of uiteindelik?

maak dit hier

Nou, my donker toring, nou.

FLIKKER

jy flikker uit die niet

aan die kringe om my oë

as jy aan my koek

om die donker se oor

het die Here ons  gehoor?

 

jy kom van my sy 

uit die vonk in die pyn

as die heelal wil skiet 

is ons al gebind

sal die Here my kan vind

as jy my kon vind?

 

hoe veel ek jou voel in my

hoog, dalk nog hoër

as Botswana se bome toe jy

my onder die gras nog kon kry

 

sit jou bene in die lug 

het  ’n aanval gekry

as ek als wat ek het

vir sy kinders kon gee

sou ek nog in jou kamer kon bly?

is daar plek op jou kussing vir my?

 

hoe veel ek jou voel in my

hoog, dalk nog hoër

as die mense wat bo hom net kyk

as die dood soos ’n hond aan hom ruik

 

VERLANGER IN DIE BO-VENSTER

Hey daar my broer

Jy’t probeer maar nou’s jy dood

wat bly oor?

na ons loop

jou bliksemlig slaan

vir oulaas vanaand op die sand

 

ek voel nog jou syn

ns is almal nog lief vir jou

ons het agter gebly

ek probeer net onthou

of ek iets was vir jou

voor die vlug

 

Hey Gerrit Brand

Jou seun is nou man

Ons het vanaand op hom gedrink

daar’s iets in sy oë

wat ek al hoe meer glo is jy

 

Hey Danie, jy moet jou gaan uitleef

Jy dink jy verdwaal

Maar ons kan net een rigting val

 

FOTO

Neem ’n foto nou

o die weer kom vanaand

soos ’n beer oor die berg

hou die lappe bo jou

jy’s al weer in jou troebeltyd

ek sweer ek wou jou betyds hier uit kry

kan jy nou sien my vyand

stuur vuur na my hart

ek het gesê ek kan nie brand nie ek vonk net

 

Sê vir hulle jy bly

al vir vier jaar by my     

 

SEER

Is jy seergemaak?

Kyk hoe lig my klere op as ek aan jou raak

wou jy leer uit my?

wat het jy gevat?

want daar’s iets weg soos jy

al hierdie mense sê ek is dood

en al is dit so

voel ek jou binne my

jy’t die venster gebreek

jy’t jou flits ingesteek

 

is dit te laat om te kom

ek draai al ure lank in diie kamer om

het jy my begrawe hier?

In daai uitgeskryfde

in daai opgefokte hart

 

Ek hoor hoe jy op my sing

deur die klei

ses voet van my

ek weet dat jy ook so soek

jy’t die kis oopgebreek

jy’t jou hand ingesteek

DELILA FEAT. DIE HOOFLIG

Sy sit haar ogies aan

ai, my lam, is jy moeg? Wil jy dan gaan?

Die mense hier is dood

ek het laas ’n siel gesien op die pad

en hy was papnat

seker veertig

in ’n knoophemp

daar was weerlig

dit was Jesus

ek is seker

 

Delilah, vir vier jaar

het jy my by jou gehou

maar nou

 

Sy boet in donkerblou

dis my jongdae-moed wat sy mis

’n mismoedig

sy sê ek’s halfpad dood

en sy’t laas my siel gesien

op die pad

en ek was papnat

seker twintig

in ’n knoophemp

daar was weerlig

dit was Jesus

sy was seker

 

Delilah, vir vuur-jaar

het jy my by jou gehou

maar nou

 

Die Hooflig:

Die herinnering van haar begin

Toe die natuur nog in sy lente was

Die tekstuur van haar woorde soos kleur vanaf ’n nat verfkwas

Dit vul ons portret

Sy dans en ek glimlag

Sy’s ’n sonstraal ek’s middernag

Maar ek’s hoopvol

Sy oorrompel my maklik met sagte woorde wat sy mompel

Soor ’n stofpad met kronkel

Sien ek hoe stof daal

En ek wonder

In die weerlik

Was dit Jesus

Dit was jy

Ja ek’s seker

DIE DONKER TORING

Ek het by my broers weggekruip vir twee jaar om oor iets te skryf

Ons het daar bo by die venster agt seisoene in vlotte deur die drank en die dood sien dryf

Tot ons vir jou gehoor het

Jy’t kom klop aan die deur van die toring en ek wou nie uitkom nie

My broers het jou gaan ontmoet

Jy’t hulle soos jou eie gegroet

(sy stuur vir my ’n boodksap oor hoe ek nie ’n loser is nie)

Ek het julle aanloop gesien – vir jou met daai tekkies van jou

Julle het hierdie hele donnerse ding omgeduik

So hier is dit nou: ek lê waar my skaduwee was

Oor elke laaste doring

Ek is die donker toring

 

NOORDE

Dis in die oorsig

dis in die gly

dis daai foto wat ’n wit flits maak in my

deur al die dode

was dit jy

al my woorde word klein

ek kan dit amper by jou kry

ek kan dit amper by jou kry

 

dis in die bome

(regtig, in afwagting)

dis hier om te bly

dit ruik na die klam bries wat haar opvoel in jou trui

(glo jy dit nie? Dis in Kalkbaai)

die lig wat jy uittrek

sal nog aan my klou

al my bene word koud

maar ek wag nog hier op jou

ek wag nog hier op jou


UITGEBREIDE KREDIET:

Spoegwolf is:

Danie du Toit

Chris von Wielligh

Albert van der Merwe

Moskou du Toit

 

Lirieke en Songs geskryf deur Danie du Toit *

 

Alle musikale verwerkings deur Spoegwolf.

 

Die Donker Toring is vervaardig deur Chris von Wielligh en Jürgen von Wechmar.

 

Opgeneem by Sunset Recording Studios en in die Spoegwolf-studio, Stellenbosch**

 

Mixing deur Jürgen von Wechmar.

 

Mastering deur Tim Lengfeld by TL Studios.

 

Album Kuns en Ontwerp deur Tertia du Toit.

 

Rap-gedeelte in (Verlanger in die bo-venster) geskryf deur Albert van der Merwe. Rap-gedeelte in Delila geskryf deur Die Hooflig.

 

** Kerkorrel in Noorde en Hartaanval is opgeneem in die Strooidak Kerk, Paarl.

 

Instrumente:

Danie du Toit:

Main-Vocals, Akoestiese Kitaar, Mondfluitjie.

Klavier in ’Skaduwee’, ’Botswana’, ‘Foto’, ‘Delila’.

Elektriese Kitaar, Trekklavier.

 

Chris von Wielligh:

Elektriese Kitaar.

Klavier in ‘Geel (Julie)’, ‘Winter’, ‘Flikker’, ‘Seer’, ‘Noorde’.

Keyboard-verwerkings, Orrel.

 

Albert van der Merwe:

Baskitaar, Backing-Vocals.

Rap-section in ‘Verlanger in die Bo-Venster’, Rythym Guitar Chords in ‘Verlanger in die Bo-Venster’.

 

Moskou du Toit:

Alle dromme en percussion, Backing-Vocals, Braai- en bakmeester vir die laat-aande.

 

Spesiale Dankie aan:

Tertia du Toit, Jürgen von Wechmar, Die Hooflig, Bianca, die Du Toit-gesin, die Von Wielligh-gesin, die Van der Merwe-gesin, Paul Bothner Music, Hugo Brand (Spoegbeer),  Arnold van Clear Vision and Hearing, en aan al die fans wat aanhou luister.

 

Spesiale Jammer aan:

Ons bure, MFM en die Endler-saal.

 

Spesiale Saluut aan:

Piet, Valiant, Koos, Bruce, David, Floyd, Fokof, Salinger.