SOmer

Songs en lirieke deur Danie du Toit

Musiek deur Spoegwolf

Kletsrym deur Albert van der Merwe

BITTERMAAN

Die reën raas harder as die lugverwarmer
Toemaar, toemaar, toe
Ek het blomme gekoop
 
Die woude roer, die water roei verwaarloos
Toemaar, toemaar, toe
Dit is stil in die huis
 
En dis veilig onder jou plafon
Met jou vreemde klanke
En jou vreemde son
Ek is broos soos die waarheid vir ʼn leun
Sê my waar is jou verliefde heen
 
Ek sukkel om te staan
Ek skree jou naam
Bittermaan
Hierdie mense volg my waar ek gaan
Bittermaan
 
Waar’s jy nou?
 
Hoor jy dis ek
Ek het vergeet hoe om te dans
Maar ek kan dryf
As jy nie op my voete staan nie
Die buite-fokus reën maak patrone op die venster
Verdwaalde druppels ek is een
Maar jy nie

 

SEISOEN

Sy soen die seisoen
Sy soen die seisoen
Daar’s ʼn plek waar de kranse haar opvang
En winde wat huil maak

 

ELEKTRIESE KIND

elektriese kind, ek is brawer as wat jy dink
ek het dan saam my broers geloop tot by die verste punt
dit was baie naby aan jou
die winde kan my waai
hel ek sweer ek sal hier lê
geen watertong sal my kan sluk nie
geen wederkoms kan my ruk nie
nie as jy hier langs my sit nie
sit jy net daai vinger elke nou en dan op my voorkop
jy kan die kersfeesliggies deur my oë klop
ja, jy kan my lewendig skok
elektriese kind, vir jou is ek nie bang nie
hierdie bibber hou nie lank nie
dis net die hakkel in my long
dit mag dalk lyk asof ek snik
ek verseker jou dis nie dit nie

EK DINK SOOS JY

Ek dink soos jy en aan die aande toe ons nog waker kon bly – dit was koud en nat in die Kaap
So koud was jou voete
Jy’t dit op my borskas laat slaap
Hoe rafel die tou waaran my hart soos ʼn klok hang
My kop swaai soos ʼn waaiende hand
Vir jou
Om dit in joune te vat
Nou sê jy dit gaan nog jare vat
Jare?
Hoe oud gaan ons dan wees?

 

(teerpad deur Albert van der Merwe)

Ek sit op my eie stukkie teerpad,

nat van die wolkbreek,

glad soos die Moederstand.

iewers in die donker brand 'n

kers op 'n vensterbank.

die winternag bly donkerlank.

jou glimlagte bly kort en vlak 

soos jou vriende hier, sielsvrot en brak.

Ek weet nie meer nie.

In twee geskeur deur die wind

en ek dink nie ons moet

weer probeer nie, dis al die derde keer

maar die hemel weet dis

nog dieselfde seer.

deur die loop van 'n geweer,

onderdeur

middeldeur

sneller nou

donderweer

ag fok, loop jy weer? 

ons leer nie meer nie.

Een. Twee. Drie.

Is dit nie nou al die vierde keer nie?

LALABAI

Ek het ʼn huis aan die bokant van my toekoms
Waar jy jou kindertjies bad
En selfs die spoke
Soos duiwe
Aan die lyne lag
Ek het ʼn pyl in die harde deel van my kopbeen
Waarom die bloed
Klop soos ʼn drom
En min
Min maar soms stop
As jy nader kom
 
Jy strike my soos ʼn flint
My hande bly
Agter my kop
En ek kyk op
In wakker sweet soos elke aand
Kan di Here my laat slaap?
En jy lyk laat maar jy staan en sê jy sien my hier rond
Jy sien my
Ai Lalabai maak my oë tog toe
Toe, toe, toe, toe, na jou toe
Maak my nie so alleen, alleen, alleen
Na jou toe heen
 
Ek het jou lyf in die voorportaal besoek
En in die gange waar geeste dwaal en vloek
Hulle vloek en hulle fluister
As hulle ook na jou soek

 

WANDELLIEDJIE

Vou my nou op
Ek is uitgedun
Ek sal oor hierdie koppe dryf
Jy kan jou briefie skryf op my
 
Ek sal jou woorde voor gaan dra
Voor die dooies
En hul blinkoog-meester dien
 
Daar is ʼn paar wat ek in elk geval wou sien
 
Een twee drie vier jaar terug
Ek is jammer ek was stadig
Ek is jammer ek was
 
Jy met jou wandelliedie
Kom wandel onder deur my oë
Wag ʼn bietjie
Ek trap my tone teen die trappe moertoe
Jy’s te vinnig deur my gange
Na my stoep toe
Jy met jou kinderjare
Wat oorgebly het op jou wimperhare
Jy’s ʼn dwaas op my blinkvosperd
Want ek gaan nêrens
Ek is boggerôl werd

 

NAGMUSKIET

jy klap die onsigbare nagmuskiet
soos die frons oor jou oë
frons oor jou voorkop skiet
jy sit so kruisbeen oor my werksetiek
soos die dag uit my greep en
dag uit my venster skiet
kyk daar oor die berge
kom die honde aan hul sluier
en hulle ‘hoooe’
alles moet sterf
maar ek’t ʼn gevoel in my dat ons vir altyd
in hierdie kamer kan bly
en as daai honde kom kan ons twee dalk net ‘hoooe’

 

BLOMPATRONE

ra my terug my lief en bly
Bly by my by praat in ons oue eie taal
Wanneer laas was jy kaal?
Salf my voorkop
Byt my wang
Laat my arms by die bed af hang
Dreig die liefde uit my keel
Steek dit weg as jy dit steel
 
Ons slaan ʼn tent op my bed op
Ons hou die blompatrone dop
As die son deur die laken skyn
Sê net weer jy’s lief vir my
Die siekte gaan my onder kry
Maar my liggie sal skyn
 
Ek kan sien ons het al twee iets hier verloor
Maar jy kan my jas leen
Sit jou bors net teen my oor
Ek sal ʼn ster vir jou gaan vang
As die sterre laag kom hang
Jy kan dit opsit in ons huis
Dit kan saam met die sonbesies, saam met die yskas suis

GLENDA

Glenda, ek het jou afgejaag in my kop
Ek kan jou opdroom maar dit stop voor die vaal stoom jou kaal aan my los
en my dros na stede waar jou danse soos standbeelde dronk staan en uitstaar na die preutses en hul skaamblare
 
Hoe dans die slang dan om jou lyf
As hy jou terug nooi na sy tuin
War jy die vrugte almal steel
En met onheiliges kom deel
 
Glenda ek het jou uitgemaak aan haar lyf
Ek kon jou voorstel net voor jy ook skoonveld verdwyn
 
Jy het my ook opgedra aan jou geveg teen onsigbaarheid;
Ons taal is ons vrugbaarheid
 
Hoe dans die slang dan om jou lyf
As hy jou terug nooi na sy tuin
Waar jy die vrugte almal steel
En met onheiliges kom deel

SOOS JOU OUERS

Ek wil jou oopdraai hier voor my
Ek wil jou oor my tuin laat uitloop
Kom plant jou doringboom op my
Kom maak jou voorbeeld van my
 
Jy kruip in jou serp weg
Voel jy nou ver weg
Ek het my arms om jou skouers
Ek’s ʼn dief vir jou
Soos jou ouers
 
Jy steek jou kop by die ruit uit
Die ogies wat loer
Kyk by jou nie uit
Hoe dreun die Heer in die donker
Sy radio roer
Ons radiogolwe

 

AGTERSITPLEK

kykie, kry jou jas
en sit die oond ook af
die stoep se lig kan brand
dis hoe dit altyd was
ja, jou vriende kan maar weet
los ʼn boodskap teen die deur
met daai foto van ons twee
daai valse glimlag breed
die boot is vol met wyn en beskuit
die lakens hang by die venster uit
die plante lek reg oor die agtersitplek 


UITGEBREIDE KREDIET:

Songs en Lirieke geskryf deur Danie du Toit. 

Musikale verwerkings deur Spoegwolf.

Somer is vervaardig deur Chris von Wielligh en Jürgen von Wechmar; 

Opgeneem en gemix deur Jürgen von Wechmar by Sunset Recording Studios in Stellenbosch tydens die winter van 2015.

Mastering deur Tim Lengfeld by TL. Studios.

Album ontwerp deur Tertia du Toit.

Rap-gedeelte in “Ek dink soos jy” geskryf deur Albert van der Merwe.

“Elektriese Kind”, “Nagmuskiet”, “Agtersitplek” & “Glenda” is opgeneem tydens die somer van 2013-2014.


INSTRUMENTASIE:

Danie du Toit: Stem en kitaar. Mondfluitjie in “Glenda” 

en “Seisoen”. Orrel in “Ek dink soos jy”. 

Elektriese klavier in “Blompatrone”. 

Elektriese kitaar-swells in “Ek dink soos jy” en “Glenda”.


Chris von Wielligh: Elektriese kitaar. Klavier in 

“Bittermaan”, “Nagmuskiet”, “Ek dink soos jy” 

en “Seisoen”. Orrel in “Ek dink soos jy”. 

Keyboard verwerking in “Seisoen”.


Albert van der Merwe: Bas-kitaar. Backing-vocals 

in alle songs. Rap in “Ek dink soos jy”. 

Elektriese kitaar lead in “Nagmuskiet”.


Moskou du Toit: Dromme in alle songs. 

Perkussie in alle songs. Backing vocals in alle songs.


Tromboon in “Lalabai” gespeel deur Ceaghan Lackay.